Deuteronómium 32:28-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. Want ’n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie.

29. Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.

30. Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tienduisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul Steenrots hulle verkoop en die Here hulle oorgelewer het nie!

31. Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie — ja, ons vyande self is skeidsregters!

32. Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle.

33. Hulle wyn is slanggif en wrede addergif.

34. Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie?

35. My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.

36. Want die Here sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.

37. Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het,

38. wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle ’n beskerming kan wees!

39. Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.

40. Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê: So waar as Ek ewig leef —

41. as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.

42. Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vlees eet: van die bloed van hom wat verslaan en gevang is, van die kop van die vyand se aanvoerders.

Deuteronómium 32