Deuteronómium 28:39-53 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

39. Wingerde sal jy plant en bewerk maar geen wyn drink of wegbêre nie; want die wurm sal dit opeet.

40. Olyfbome sal jy hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf nie; want jou olywe sal afval.

41. Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal vir jou nie wees nie; want hulle sal in gevangenskap gaan.

42. Al jou bome en die vrugte van jou land sal die sprinkaan in besit neem.

43. Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak.

44. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees.

45. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie;

46. en hulle sal by jou ’n teken en ’n wonder wees, en by jou nageslag tot in ewigheid.

47. Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie,

48. sal jy jou vyand wat die Here teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.

49. Die Here sal teen jou ’n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ’n arend vlieg — ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,

50. ’n nasie hard van aangesig, wat ’n grysaard nie ontsien en vir ’n seun geen genade het nie.

51. En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het nie.

52. En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die Here jou God jou gegee het.

53. En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die Here jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak.

Deuteronómium 28