18. Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
19. Vervloek sal jy wees by jou ingang, en vervloek sal jy wees by jou uitgang.
20. Die Here sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het.
21. Die Here sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
22. Die Here sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom.
23. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.
24. Die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.
25. Die Here sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug — en jy sal ’n skrikbeeld vir al die koninkryke van die aarde word.
26. En jou lyke sal as voedsel dien vir al die voëls van die hemel en vir die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
27. Die Here sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie.
28. Die Here sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinsverwarring,
29. sodat jy op die middag sal rondtas soos die blinde in die donker rondtas, en in jou weë sal jy geen voorspoed hê nie; maar jy sal altyddeur net verdruk en beroof wees sonder dat daar ’n helper is.
30. Jy sal jou met ’n vrou verloof, maar ’n ander man sal haar skend; ’n huis sal jy bou, maar daarin nie woon nie; ’n wingerd plant, maar dit nie in gebruik neem nie.
31. Jou bees word voor jou oë geslag, maar jy sal daarvan nie eet nie; jou esel word voor jou weggeroof en sal na jou nie terugkom nie; jou kleinvee word aan jou vyande gegee sonder dat daar vir jou ’n helper is.
32. Jou seuns en jou dogters word aan ’n ander volk gegee, terwyl jou oë dit sien en die hele dag na hulle smag sonder dat jy daar iets aan kan doen.
33. Die vrugte van jou land en al jou werk sal ’n volk eet wat jy nie ken nie; en jy sal altyddeur net verdruk en hard behandel word.
34. En jy sal kranksinnig wees vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.