Deuteronómium 21:9-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En jy sal die onskuldige bloed uit jou midde verwyder as jy doen wat reg is in die oë van die Here.

10. AS jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die Here jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer,

11. en jy onder die gevangenes ’n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem,

12. dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip.

13. En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ’n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees.

14. En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.

15. AS ’n man twee vroue het, een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou,

16. dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie.

17. Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ’n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.

18. AS iemand ’n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie,

19. dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek,

20. en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ’n deurbringer en dronkaard.

21. Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.

22. EN as in iemand ’n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ’n paal ophang,

23. dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik dié dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie.

Deuteronómium 21