Deuteronómium 12:18-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Maar jy moet dit eet voor die aangesig van die Here jou God op die plek wat die Here jou God sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die aangesig van die Here jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan.

19. Neem jou in ag dat jy die Leviet nie aan sy lot oorlaat solank as jy in jou land lewe nie.

20. As die Here jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou beloof het, en jy sê: Ek wil vleis eet — omdat jy lus het om vleis te eet — dan mag jy na hartelus vleis eet.

21. As die plek wat die Here jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, ver van jou af is, dan mag jy van jou beeste en jou kleinvee slag wat die Here jou gee, soos ek jou beveel het; en jy mag na hartelus in jou poorte eet.

22. Maar soos die gemsbok en die takbok geëet word, so moet jy dit eet; die onreine en die reine moet dit saam eet.

23. Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie.

24. Jy mag dit nie eet nie; op die grond moet jy dit uitgooi soos water.

25. Jy mag dit nie eet nie, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan as jy doen wat reg is in die oë van die Here.

26. Net jou heilige gawes wat jy het, en jou gelofte-offers moet jy neem en na die plek kom wat die Here sal uitkies;

27. en jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, berei op die altaar van die Here jou God, en die bloed van jou slagoffers moet teen die altaar van die Here jou God uitgegiet word; maar die vleis moet jy eet.

28. Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die Here jou God.

29. As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon,

30. neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? — dat ek ook so kan doen.

31. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode.

32. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.

Deuteronómium 12