1. DIT het die Here Here my laat sien — kyk, Hy het sprinkane geformeer toe die na-gras begin uitspruit het; en kyk, dit was die na-gras nadat die snysels van die koning af was.
2. En toe hulle al die gewasse van die land afgeëet het, sê ek: Here Here, vergeef tog! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
3. Toe het die Here berou gekry oor hierdie saak. Dit sal nie gebeur nie, het die Here gesê.
4. Dit het die Here Here my laat sien — kyk, die Here Here roep om ’n regstryd te voer deur vuur, en dit het die groot watervloed verteer en sou die akkerland verteer het.
5. Toe sê ek: Here Here, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
6. Die Here het berou gekry oor hierdie saak. Dit sal ook nie gebeur nie, het die Here Here gesê.
7. Dit het Hy my laat sien — kyk, die Here het op ’n loodregte muur gestaan, en daar was ’n skietlood in sy hand.
8. Toe sê die Here vir my: Wat sien jy, Amos? En ek het geantwoord: ’n Skietlood. Daarop sê die Here: Kyk, Ek gaan ’n skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie.
9. En die hoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees, en teen die huis van Jeróbeam sal Ek met die swaard optree.
10. TOE het Amásia, die priester van Bet-el, Jeróbeam, koning van Israel, laat weet: Amos het ’n sameswering gesmee teen u midde-in die huis van Israel; die land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie.
11. Want so het Amos gesê: Jeróbeam sal deur die swaard sterwe, en Israel sal sekerlik uit sy land in ballingskap gaan.
12. Toe sê Amásia vir Amos: Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar!
13. Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is ’n koninklike heiligdom en ’n tempel van die ryk.