17. En Abner het met die oudstes van Israel onderhandel en gesê: Gister sowel as eergister het julle aldeur Dawid as koning oor julle begeer.
18. Voer dit dan nou uit, want die Here het van Dawid gespreek en gesê: Deur die hand van my kneg Dawid sal Ek my volk Israel uit die hand van die Filistyne en uit die hand van al hulle vyande verlos.
19. En Abner het ook voor die ore van Benjamin gespreek; en Abner het ook gegaan om voor die ore van Dawid in Hebron te spreek alles wat goed was in die oë van Israel en in die oë van die hele huis van Benjamin.
20. Toe Abner by Dawid in Hebron kom, en twintig man saam met hom, het Dawid vir Abner en die manne wat by hom was, ’n maaltyd aangerig.
21. En Abner sê vir Dawid: Ek wil my klaarmaak en die hele Israel by my heer die koning gaan versamel, dat hulle met u ’n verbond sluit; dan kan u heers oor alles wat u siel begeer. Daarop het Dawid Abner laat gaan, en hy het in vrede weggegaan.
22. Intussen kom die dienaars van Dawid en Joab juis van ’n rooftog af, en hulle bring ’n groot buit met hulle saam. Maar Abner was nie meer by Dawid in Hebron nie, want dié het hom laat gaan, en hy het in vrede vertrek.
23. Toe Joab en die hele kommando wat saam met hom was, tuis kom, deel hulle aan Joab mee en sê: Abner, die seun van Ner, het na die koning gekom, en dié het hom laat gaan, en hy het in vrede vertrek.
24. Daarop kom Joab by die koning en sê: Wat het u gedoen? Kyk, Abner het by u gekom; waarom het u hom tog laat loop, dat hy somaar weggegaan het?
25. U ken Abner, die seun van Ner, dat hy gekom het om u te mislei en om u uitgang en u ingang te weet, ja, om alles te weet wat u doen.
26. En Joab het van Dawid af weggegaan en boodskappers agter Abner aan gestuur, wat hom teruggebring het van die put Hassira af sonder dat Dawid dit geweet het.