2 Samuel 2:5-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. stuur Dawid boodskappers na die manne van Jabes in Gílead om aan hulle te sê: Mag julle geseënd wees deur die Here, dat julle hierdie guns bewys het aan julle heer, aan Saul, en hom begrawe het.

6. Mag die Here julle dan nou guns en trou bewys, en ek self bewys ook hierdie goedheid aan julle, omdat julle hierdie ding gedoen het.

7. En nou, laat julle hande sterk wees, en wees wakker manne; want julle heer Saul is dood. Daarby het die huis van Juda my ook as koning oor hulle gesalf.

8. Maar Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Saul, het Isbóset, die seun van Saul, geneem en hom oorgebring na Mahanáim

9. en hom koning gemaak oor Gílead en oor die Asuriete en oor Jísreël en oor Efraim en oor Benjamin en oor die hele Israel.

10. Veertig jaar oud was Isbóset, die seun van Saul, toe hy koning geword het oor Israel, en hy het twee jaar geregeer; net die huis van Juda het Dawid gevolg.

11. En die getal dae wat Dawid koning was in Hebron oor die huis van Juda, was sewe jaar en ses maande.

12. EN Abner, die seun van Ner, met die dienaars van Isbóset, die seun van Saul, het uitgetrek uit Mahanáim na Gíbeon.

13. Joab, die seun van Serúja, en die dienaars van Dawid het ook uitgetrek. En toe hulle mekaar ontmoet by die dam van Gíbeon, het hulle gaan sit aan weerskante van die dam.

14. En Abner sê vir Joab: Laat die jongmanne hulle tog regmaak en voor ons speel. En Joab sê: Laat hulle regmaak.

15. Toe het hulle opgestaan, en twaalf is vir Benjamin afgetel, naamlik vir Isbóset, die seun van Saul; en twaalf van die dienaars van Dawid.

16. Maar die een het die ander aan die hoof gegryp, en die een se swaard was in die sy van die ander, sodat hulle saam geval het; daarom noem hulle dié plek Veld van Swaardskerptes, wat by Gíbeon is.

17. En dieselfde dag het die geveg buitengewoon hewig geword, maar Abner en die manne van Israel is verslaan voor die dienaars van Dawid.

18. En daar was drie seuns van Serúja: Joab en Abísai en Ásahel; en Ásahel was lig op sy voete soos een van die gemsbokke wat in die veld is.

19. En Ásahel het Abner agternagejaag sonder om in sy koers regs of links agter Abner weg te draai.

20. Toe kyk Abner agter hom om en sê: Is dit jy, Ásahel? En hy antwoord: Dit is ek.

21. En Abner sê vir hom: Draai uit na jou regter- of linkerhand en gryp vir jou een van die jongmanne en neem sy uitrusting vir jou. Maar Ásahel wou nie agter hom wegdraai nie.

22. En Abner sê nog ’n keer vir Ásahel: Jy moet padgee agter my; waarom moet ek jou teen die grond slaan? Hoe sou ek dan my aangesig kan ophef voor jou broer Joab?

23. Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterent van die spies in die onderlyf, sodat die spies agter hom uitkom en hy daar neerval en op die plek sterwe. En almal het bly staan wat aankom by die plek waar Ásahel geval en gesterwe het.

2 Samuel 2