2 Samuel 17:16-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. Stuur dan nou gou, en laat Dawid weet: Vernag nie by die woestyndriwwe nie, maar trek sekerlik deur; anders word die koning en al die mense wat by hom is, vernietig.

17. Intussen het Jónatan en Ahímaäs by die fontein Rogel gestaan, terwyl ’n diensmeisie gaan om vir hulle berig te bring; hulle moes dan weer gaan en dit aan koning Dawid oorbring. Want hulle moes hulle nie laat sien deur in die stad in te gaan nie.

18. Maar ’n seun het hulle gesien en dit aan Absalom meegedeel. Toe gaan hulle twee haastig weg en kom by die huis van ’n man in Bahúrim wat ’n put op sy erf gehad het, en hulle het daarin afgesak.

19. En die vrou het ’n doek geneem en dit bo-oor die put oopgetrek en graankorrels daarop uitgestrooi, sodat ’n mens niks kon merk nie.

20. Toe Absalom se dienaars by die vrou in die huis kom, vra hulle: Waar is Ahímaäs en Jónatan? En die vrou sê vir hulle: Hulle het die watertjie deurgegaan. En hulle het gesoek maar niks gekry nie, en na Jerusalem teruggegaan.

21. Nadat hulle weg was, het hulle uit die put opgeklim en verder gegaan en aan koning Dawid berig gebring en aan Dawid gesê: Maak julle klaar en trek gou die water deur, want so het Agitófel teen julle raad gegee.

22. Daarop het Dawid hom klaargemaak, en al die mense wat by hom was, en die Jordaan deurgetrek. Teen dat dit die môre lig geword het, het selfs nie een ontbreek wat nie die Jordaan deurgetrek het nie.

23. En toe Agitófel sien dat sy raad nie opgevolg is nie, saal hy die esel op en maak hom klaar, en hy het na sy huis in sy stad gegaan en aan sy huis bevel gegee en homself verwurg. So het hy dan gesterwe; en hy is begrawe in die graf van sy vader.

24. EN Dawid het al in Mahanáim aangekom terwyl Absalom deur die Jordaan trek, hy en al die manne van Israel saam met hom.

25. En Absalom het Amása in Joab se plek oor die leër aangestel; en Amása was die seun van ’n man met die naam van Jitra, die Ismaeliet wat ingegaan het by Abígail, die dogter van Nahas, die suster van Serúja, Joab se moeder.

26. En Israel en Absalom het laer opgeslaan in die land Gílead.

27. Net toe Dawid in Mahanáim aankom, bring Sobi, die seun van Nahas, uit Rabba van die kinders van Ammon, en Magir, die seun van Ámmiël, uit Lódebar, en Barsíllai, die Gileadiet, uit Rógelim,

28. beddegoed en skottels en erdegoed en koring en gars en meel en gebraaide koring en bone en lensies, ook gebraai,

29. en heuning en dikmelk en kleinvee en kaas van beesmelk na Dawid om te eet, en na die mense wat by hom was, want hulle het gesê: Die mense het honger en is moeg en het dors geword in die woestyn.

2 Samuel 17