2 Samuel 16:10-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Maar die koning sê: Wat het ek met julle te doen, seuns van Serúja? As hy vloek, en as die Here aan hom gesê het: Vloek Dawid! wie mag dan vra: Waarom maak jy so?

11. Verder het Dawid aan Abísai en al sy dienaars gesê: Kyk, my seun wat uit my liggaam voortgekom het, soek my lewe: hoeveel te meer dan nou die Benjaminiet? Laat hom staan, dat hy vloek, want die Here het hom dit beveel.

12. Miskien sal die Here my ellende aansien en sal die Here my goed vergelde vir die vloek wat my vandag tref.

13. Dawid en sy manne het toe met die pad getrek, terwyl Símeï al langs hom aan die kant van die berg gedurig loop en vloek, en al langs hom met klippe gooi en stof maak.

14. En moeg het die koning en al die mense wat by hom was, by die Jordaan aangekom en daar asem geskep.

15. INTUSSEN het Absalom en al die manskappe, die manne van Israel, in Jerusalem aangekom, en Agitófel was by hom.

16. En net toe Húsai, die Arkiet, die vriend van Dawid, by Absalom kom, sê Húsai vir Absalom: Mag die koning leef, mag die koning leef!

17. Maar Absalom vra vir Húsai: Is dit jou liefde teenoor jou vriend? Waarom het jy nie saam met jou vriend getrek nie?

18. Toe sê Húsai vir Absalom: Nee, maar aan hom wat die Here verkies, en hierdie volk en al die manne van Israel, aan hom behoort ek, en by hom sal ek bly.

19. En ten tweede: Wie sal ék dien? Is dit nie voor die aangesig van sy seun nie? Soos ek voor u vader gedien het, so sal ek voor u wees.

20. Daarop sê Absalom vir Agitófel: Julle moet raad gee onder mekaar wat ons moet doen.

21. En Agitófel sê vir Absalom: Gaan in by die byvroue van u vader wat hy laat agter bly het om die huis op te pas. Dan sal die hele Israel hoor dat u u gehaat gemaak het by u vader, en die hande van almal wat by u is, sal versterk word.

22. Hulle het toe vir Absalom ’n tent op die dak opgeslaan, en Absalom het voor die oë van die hele Israel by die byvroue van sy vader ingegaan.

23. En die raad wat Agitófel in dié dae gegee het, was asof ’n mens die woord van God geraadpleeg het. So was elke raad van Agitófel vir Dawid sowel as vir Absalom.

2 Samuel 16