22. En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe.
23. En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Jóahas, by Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem gebring en vierhonderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort.
24. En hy het al die goud en die silwer geneem en al die voorwerpe wat in die huis van God by Obed-Edom te vinde was, en die skatte van die huis van die koning en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría toe.
25. En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe.
26. En die verdere geskiedenis van Amásia, die vroeëre en die latere, kyk, is dit nie beskrywe in die Boek van die konings van Juda en Israel nie?
27. En van die tyd af dat Amásia van die Here afvallig geword het, het hulle ’n sameswering teen hom gesmee in Jerusalem, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aangestuur na Lagis en hom daar gedood.
28. En hulle het hom op perde vervoer en hom by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.