2 Konings 9:6-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En hy het opgestaan en in die huis ingegaan. Toe giet hy die olie op sy hoof uit en sê vir hom: So spreek die Here, die God van Israel: Ek salf jou as koning oor die volk van die Here, oor Israel.

7. En jy sal die huis van Agab, jou heer, verwoes, sodat Ek die bloed van my knegte, die profete, en die bloed van al die knegte van die Here op Isébel kan wreek;

8. en die hele huis van Agab sal omkom, en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering.

9. Want Ek sal die huis van Agab maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía.

10. En die honde sal Isébel eet op die dorpsgrond van Jísreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie. Daarna het hy die deur oopgemaak en gevlug.

11. Daarop gaan Jehu uit na die dienaars van sy heer, en hulle sê vir hom: Gaan dit goed? Waarom het hierdie kranksinnige by u gekom? En hy antwoord hulle: Julle self ken die man en sy gepraat.

12. Maar hulle sê: Leuens! Vertel ons tog. En hy antwoord: So en so het hy met my gespreek en gesê: So spreek die Here: Ek salf jou as koning oor Israel.

13. Toe neem hulle gou elkeen sy kleed en lê dit onder hom somaar op die trappe neer; en hulle blaas op die ramshoring en sê: Jehu is koning!

14. Daarop het Jehu, die seun van Jósafat, die seun van Nimsi, ’n sameswering gesmee teen Joram. En Joram was besig om by Ramot in Gílead wag te hou, hy en die hele Israel, teen Hásael, die koning van Aram.

15. Intussen het koning Joram teruggegaan om hom in Jísreël te laat genees van die wonde wat die Arameërs hom toegebring het in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram. En Jehu het gesê: As julle dit goedvind, laat geen vlugteling uit die stad uitgaan om dit in Jísreël te gaan vertel nie.

16. Toe klim Jehu op die strydwa en trek na Jísreël, want Joram het daar gelê; en Ahásia, die koning van Juda, het afgekom om Joram te besoek.

2 Konings 9