12. Maar hulle sê: Leuens! Vertel ons tog. En hy antwoord: So en so het hy met my gespreek en gesê: So spreek die Here: Ek salf jou as koning oor Israel.
13. Toe neem hulle gou elkeen sy kleed en lê dit onder hom somaar op die trappe neer; en hulle blaas op die ramshoring en sê: Jehu is koning!
14. Daarop het Jehu, die seun van Jósafat, die seun van Nimsi, ’n sameswering gesmee teen Joram. En Joram was besig om by Ramot in Gílead wag te hou, hy en die hele Israel, teen Hásael, die koning van Aram.
15. Intussen het koning Joram teruggegaan om hom in Jísreël te laat genees van die wonde wat die Arameërs hom toegebring het in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram. En Jehu het gesê: As julle dit goedvind, laat geen vlugteling uit die stad uitgaan om dit in Jísreël te gaan vertel nie.
16. Toe klim Jehu op die strydwa en trek na Jísreël, want Joram het daar gelê; en Ahásia, die koning van Juda, het afgekom om Joram te besoek.
17. En terwyl die wag op die toring in Jísreël staan, sien hy die skare van Jehu, terwyl hy aankom, en sê: Ek sien ’n skare. Toe sê Joram: Neem ’n ruiter en stuur hulle tegemoet, en laat hom vra: Is dit vrede?
18. En die perderuiter het hom tegemoetgegaan en gesê: So vra die koning: Is dit vrede? Maar Jehu antwoord: Wat het jy met die vrede te doen? Volg my! En die wag het dit te kenne gegee en gesê: Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.
19. Daarop stuur hy ’n ander perderuiter; en toe dié by hulle kom, sê hy: So vra die koning: Is dit vrede? Maar Jehu antwoord: Wat het jy met die vrede te doen? Volg my!
20. En die wag het dit te kenne gegee en gesê: Hy het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Maar die drywe is soos die drywe van Jehu, die seun van Nimsi, want hy dryf soos ’n kranksinnige.
21. Toe sê Joram: Span in. En hulle het sy wa ingespan; en Joram, die koning van Israel, het uitgetrek, en Ahásia, die koning van Juda, elkeen op sy wa — hulle het uitgetrek Jehu tegemoet en hom aangetref op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet.
22. En net toe Joram Jehu sien, sê hy: Is dit vrede, Jehu? Maar hy antwoord: Wat? Vrede, solank as die hoererye van jou moeder Isébel en haar towerye so baie is?