1. TOE roep die profeet Elísa een van die profete-seuns en sê vir hom: Gord jou heupe en neem hierdie kruik met olie in jou hand en gaan na Ramot in Gílead.
2. As jy daar kom, kyk dan waar Jehu, die seun van Jósafat, die seun van Nimsi, is; en gaan in en laat hom opstaan onder sy broers uit en bring hom in ’n binnekamer;
3. neem dan die kruik met olie en giet dit op sy hoof uit en sê: So spreek die Here: Ek salf jou tot koning oor Israel. Maak dan die deur oop en vlug en vertoef nie.
4. En die jongman, die dienaar van die profeet, het gegaan na Ramot in Gílead.
5. Toe hy aankom, het die owerstes van die leër juis daar gesit; en hy sê: Ek het ’n woord vir u, owerste. En Jehu vra: Vir wie van ons almal? En hy antwoord: Vir u, owerste!
6. En hy het opgestaan en in die huis ingegaan. Toe giet hy die olie op sy hoof uit en sê vir hom: So spreek die Here, die God van Israel: Ek salf jou as koning oor die volk van die Here, oor Israel.