7. En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom! En hulle het gesê: Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie.
8. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn.
9. Wees dapper en gedra julle soos manne, Filistyne, dat julle nie miskien die Hebreërs dien soos hulle julle gedien het nie; gedra julle dan soos manne, en veg.
10. Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertigduisend voetgangers geval.
11. Die ark van God is ook geneem, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, het gesterwe.
12. Toe het ’n Benjaminiet van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy hoof.
13. Terwyl hy aankom, sit Eli juis en uitkyk op ’n stoel aan die kant van die pad, want hy was besorg oor die ark van God. En die man het gekom om dit in die stad mee te deel, en die hele stad het geskreeu.
14. Toe Eli dan die geluid van die geskreeu hoor, sê hy: Wat is dit vir ’n rumoerige geluid? En die man het gou gekom en dit aan Eli meegedeel.
15. (Eli was agt-en-negentig jaar oud, en sy oë het styf gestaan, sodat hy nie kon sien nie.)
16. En die man het vir Eli gesê: Dit is ek wat van die slagveld gekom het; ja, ek het vandag van die slagveld gevlug. En hy vra: Wat het daar gebeur, my seun?
17. En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook ’n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem.
18. Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig.