16. Hierdie ding is nie goed wat jy gedoen het nie! So waar as die Here leef, voorwaar, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het oor julle heer, oor die gesalfde van die Here nie. En kyk nou, waar is die spies van die koning en die waterkruik wat aan sy koppenent was!
17. Toe herken Saul die stem van Dawid en vra: Is dit jou stem daar, my seun Dawid? En Dawid sê: My stem, my heer die koning!
18. Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my?
19. Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die Here u teen my aanhits, bied Hom dan ’n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is — vervloek is hulle voor die aangesig van die Here, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die Here nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode!
20. Laat my bloed dan nou nie op die aarde val ver van die aangesig van die Here nie, want die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek, soos ’n man ’n patrys op die berge agtervolg.
21. Toe sê Saul: Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë; kyk, ek het dwaas gehandel en my grootliks misgaan.
22. En Dawid antwoord en sê: Hier is die spies van die koning; laat dan een van die jongmanne deurkom om dit te haal.
23. Die Here tog vergeld aan elkeen sy regverdigheid en sy getrouheid — die Here het u vandag in my hand gegee, maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die Here uitsteek nie.
24. En kyk, soos vandag u lewe in my oë kosbaar was, mag so my lewe in die oë van die Here kosbaar wees, en mag Hy my red uit elke benoudheid.
25. Hierop sê Saul vir Dawid: Geseënd is jy, my seun Dawid! Jy sal groot dinge doen en sekerlik die oorhand kry. Daarop het Dawid verder gegaan, en Saul het na sy woonplek teruggekeer.