1 Samuel 20:32-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. En Jónatan het sy vader Saul geantwoord en vir hom gesê: Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?

33. Daarop gooi Saul die spies na hom om hom te tref. Toe Jónatan dan merk dat dit van sy vader se kant vas besluit was om Dawid dood te maak,

34. staan Jónatan op van die tafel in gloeiende toorn, en hy het geen brood geëet op die tweede dag van die nuwemaan nie, want hy was bedroef oor Dawid, omdat sy vader hom smadelik bejeën het.

35. Die volgende môre gaan Jónatan, volgens afspraak met Dawid, na die veld toe uit, en ’n jong dienaar met hom saam.

36. En hy sê aan die dienaar: Loop soek tog die pyle wat ek afskiet. En terwyl die dienaar loop, skiet hy ’n pyl dwarsoor hom heen.

37. Toe die dienaar dan by die plek kom waar Jónatan die pyl geskiet het, roep Jónatan die dienaar agterna en sê: Lê die pyl nie van jou af, verder nie?

38. En Jónatan roep die dienaar agterna: Maak gou, hardloop, moenie bly staan nie. En die dienaar van Jónatan het die pyl opgetel en by sy heer gekom.

39. Maar die dienaar het van niks geweet nie: net Jónatan en Dawid het van die saak geweet.

40. Toe gee Jónatan sy wapens aan die dienaar wat by hom was, en sê vir hom: Gaan, bring dit na die stad.

41. Terwyl die dienaar huis toe gaan, staan Dawid op van die suidekant en val met sy aangesig op die aarde en buig drie maal; daarna het hulle mekaar gesoen en saam geween, totdat Dawid hardop gesnik het.

42. En Jónatan sê vir Dawid: Gaan in vrede, omdat ons twee in die Naam van die Here gesweer en gesê het: Die Here sal tussen my en jou wees, en tussen my nageslag en jou nageslag vir altyd.

43. Daarna het hy opgestaan en weggegaan, maar Jónatan het die stad in geloop.

1 Samuel 20