1 Samuel 17:2-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel.

3. En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was.

4. Toe kom daar ’n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ’n span.

5. Daar was ’n koperhelm op sy hoof, en hy het ’n pantser van skubbe aangehad — die gewig van die pantser was vyfduisend sikkels koper —

6. en skeenplate van koper was aan sy bene en ’n koperlans tussen sy skouers.

7. Die steel van sy spies was soos ’n wewersbalk, en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop.

8. En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle ’n man uit, dat hy na my toe afkom.

9. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien.

10. Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ’n man, dat ons saam kan veg.

11. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.

12. En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Ísai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne.

13. Maar die drie oudste seuns van Ísai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma.

14. Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het.

1 Samuel 17