5. En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drieduisend strydwaens en sesduisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen.
6. Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is — want die volk was in die noute gedruk — het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile.
7. En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het.
8. En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak,
9. het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer.
10. En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet.
11. Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom,
12. het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die Here nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.
13. Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die Here jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die Here jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het.
14. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die Here het vir Hom ’n man na sy hart gesoek; en die Here het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die Here jou beveel het nie.
15. Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gíbea in Benjamin, en Saul het die manskappe gemonster wat by hom aanwesig was, omtrent seshonderd man.
16. Terwyl Saul en sy seun Jónatan en die manskappe wat by hulle aanwesig was, in Geba in Benjamin bly en die Filistyne by Migmas laer opslaan,
17. het die roofkommando uitgetrek uit die laer van die Filistyne in drie afdelings: een deel het weggedraai op pad na Ofra, na die land Sual toe;