14. En die oom van Saul het vir hom en sy dienaar gevra: Waar het julle heen gegaan? Daarop sê hy: Om die esels te soek; en toe ons sien dat hulle daar nie was nie, het ons na Samuel gegaan.
15. En die oom van Saul sê: Vertel my tog wat Samuel julle meegedeel het.
16. Toe sê Saul vir sy oom: Hy het ons verseker meegedeel dat die esels gevind is. Maar die saak van die koningskap, waar Samuel van gespreek het, het hy hom nie vertel nie.
17. En Samuel het die volk na die Here in Mispa byeengeroep
18. en aan die kinders van Israel gesê: So spreek die Here, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke wat julle verdruk het.
19. Maar julle verwerp vandag julle God wat julle uit al jul onheile en node verlos het, en sê: Nee, maar jy moet ’n koning oor ons aanstel. Stel julle dan nou op voor die aangesig van die Here volgens julle stamme en volgens julle geslagte.
20. Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys;
21. en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.