1 Korinthiërs 7:11-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.

12. Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder ’n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie;

13. en as ’n vrou ’n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie.

14. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.

15. Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.

16. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?

17. Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.

18. Is iemand as ’n besnedene geroep — hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep — hy moet hom nie laat besny nie.

19. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.

20. Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.

21. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van.

22. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ’n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ’n slaaf van Christus.

23. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.

24. Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God.

25. In verband met die maagde het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat deur die barmhartigheid van die Here betroubaar is.

26. Ek meen dat dit goed is vanweë die aanstaande nood — dat dit goed is vir ’n mens om so te bly.

27. Is jy aan ’n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van ’n vrou, moenie ’n vrou soek nie.

1 Korinthiërs 7