1 Konings 7:15-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. HY het naamlik die twee pilare van koper gevorm; agttien el was die hoogte van die een pilaar, en ’n lyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan.

16. En hy het twee kapitele gemaak om op die toppe van die pilare te sit, gietwerk van koper; vyf el was die hoogte van die een kapiteel, en vyf el was die hoogte van die ander kapiteel.

17. Daar was vlegwerke — die maaksel van die vlegwerk was gedraaide drade, ’n maaksel van kettinkies — vir die kapitele op die top van die pilare; sewe vir die een kapiteel en sewe vir die ander kapiteel.

18. Verder het hy die granaatjies gemaak, naamlik twee rye rondom oor die een vlegwerk, om die kapitele op die top van die pilare te bedek; en net so het hy vir die ander kapiteel gemaak.

19. En die kapitele op die top van die pilare aan die voorportaal was vier el, lelievormig,

20. naamlik die kapitele op die twee pilare bo-aan, verby die vlegwerk wat vlak op die bol was. En die granaatjies was tweehonderd, in rye rondom, ook oor die tweede kapiteel.

21. En hy het die pilare opgerig by die voorportaal van die hoofvertrek. Toe hy die regterpilaar opgerig het, noem hy dit Jagin; en toe hy die linkerpilaar opgerig het, noem hy dit Boas.

22. Toe die leliewerk op die top van die pilare was, was die werk aan die pilare voltooi.

1 Konings 7