1 Konings 2:27-43 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. So het Salomo dan Ábjatar verdrywe, sodat hy nie meer priester van die Here was nie, om die woord van die Here te vervul wat Hy oor die huis van Eli in Silo gespreek het.

28. Toe die gerug by Joab kom — want Joab was aan die kant van Adónia, alhoewel hy nie aan die kant van Absalom was nie — het Joab gevlug na die tent van die Here en die horings van die altaar vasgehou.

29. En aan koning Salomo is meegedeel: Joab het gevlug na die tent van die Here, en kyk, daar is hy by die altaar! Toe laat Salomo aan Benája, die seun van Jójada, weet: Gaan heen, val op hom aan.

30. Daarop het Benája by die tent van die Here gekom en vir hom gesê: So spreek die koning: Kom uit. Maar hy sê: Nee, want hier wil ek sterf. En Benája het die koning ’n antwoord gebring en gesê: Só het Joab gespreek, en só het hy my geantwoord.

31. Toe beveel die koning hom: Doen soos hy gespreek het: val op hom aan, en begrawe hom, sodat jy die onskuldige bloed wat Joab vergiet het, van my en my vader se huis af verwyder;

32. en dat die Here sy bloed op sy eie hoof laat neerkom, omdat hy op twee manne, regverdiger en beter as hy, aangeval en hulle met die swaard vermoor het sonder medewete van my vader Dawid: Abner, die seun van Ner, die leërowerste van Israel, en Amása, die seun van Jeter, die leërowerste van Juda;

33. en dat hulle bloed op die hoof van Joab en op die hoof van sy nageslag vir ewig kan neerkom, maar Dawid en sy nageslag en sy huis en sy troon vrede kan hê van die Here tot in ewigheid.

34. Toe het Benája, die seun van Jójada, opgegaan en op hom aangeval en hom gedood; en hy is begrawe in sy huis in die woestyn.

35. Daarop het die koning Benája, die seun van Jójada, in sy plek oor die leër aangestel; en Sadok, die priester, het die koning aangestel in die plek van Ábjatar.

36. Verder het die koning Símeï laat roep en vir hom gesê: Bou vir jou ’n huis in Jerusalem, en jy moet daar woon en mag daarvandaan nie uitgaan, nêrens heen nie;

37. die dag dat jy uitgaan en oor die spruit Kidron trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe; jou bloed sal op jou hoof wees.

38. En Símeï sê vir die koning: Dit is goed; soos my heer die koning gespreek het, so sal u dienaar doen. En Símeï het baie dae in Jerusalem gebly.

39. Maar aan die einde van drie jaar het twee van Símeï se slawe weggeloop na Agis, die seun van Máäga, die koning van Gat; en aan Símeï is meegedeel en gesê: Jou slawe is daar in Gat.

40. Toe maak Símeï klaar en saal sy esel op en vertrek na Gat, na Agis toe, om sy slawe te soek; en Símeï het gegaan en sy slawe van Gat af gebring.

41. Maar aan Salomo is meegedeel dat Símeï uit Jerusalem na Gat weggegaan en teruggekom het.

42. Daarop laat die koning Símeï roep, en hy sê vir hom: Het ek jou nie by die Here besweer en jou gewaarsku nie en gesê: Die dag dat jy uitgaan en êrens heen trek, moet jy voorwaar weet dat jy sekerlik sal sterwe? En jy het aan my gesê: Dit is goed; ek het gehoor.

43. Waarom het jy dan die eed by die Here en die gebod wat ek jou opgelê het, nie gehou nie?

1 Konings 2