14. En hy het agter die man van God aan gegaan en hom aangetref terwyl hy onder die terpentynboom sit; en hy sê vir hom: Is jy die man van God wat uit Juda gekom het? En hy antwoord: Ja.
15. Toe sê hy vir hom: Gaan met my saam huis toe en eet brood.
16. Maar hy antwoord: Ek kan nie met jou saam omdraai of met jou saam ingaan nie; ek mag ook nie brood eet of met jou saam water in hierdie plek drink nie;
17. want aan my is gesê deur die woord van die Here: Jy mag daar geen brood eet of water drink nie; jy mag nie terugkeer met die pad waarmee jy gegaan het nie.
18. Maar hy sê vir hom: Ek is ook ’n profeet net soos jy, en ’n engel het met my gespreek deur die woord van die Here en gesê: Bring hom terug saam met jou na jou huis, dat hy brood kan eet en water kan drink. Hy het vir hom gelieg.
19. Toe het hy met hom saam omgedraai en in sy huis brood geëet en water gedrink.
20. Maar terwyl hulle aan tafel sit, kom die woord van die Here tot die profeet wat hom laat omdraai het;
21. en hy het die man van God wat uit Juda gekom het, toegeroep en gesê: So spreek die Here: Omdat jy wederstrewig was teen die mond van die Here deur nie die gebod te hou wat die Here jou God jou beveel het nie,
22. maar omgedraai en brood geëet en water gedrink het in die plek waarvan Hy aan jou gesê het: Jy moet geen brood eet of water drink nie — daarom sal jou lyk nie in die graf van jou vaders kom nie.
23. Nadat hy dan geëet en gedrink het, saal hy vir hom die esel op — vir die profeet wat hy laat omdraai het —
24. en hy gaan weg; toe kom ’n leeu hom teë op die pad en maak hom dood. En sy lyk het neergewerp op die pad bly lê, terwyl die esel daarlangs staan en die leeu ook langs die lyk bly staan.
25. Intussen kom daar manne verby wat die lyk op die pad sien lê, terwyl die leeu langs die lyk staan; en hulle het dit kom sê in die stad waar die ou profeet woon.
26. Toe die profeet wat hom van die pad af laat omdraai het, dit hoor, sê hy: Dit is die man van God wat teen die mond van die Here wederstrewig was; daarom het die Here hom aan die leeu oorgegee wat hom verskeur en hom gedood het volgens die woord van die Here wat Hy met hom gespreek het.
27. Daarop praat hy met sy seuns en sê: Saal vir my die esel op. En hulle het opgesaal.
28. Toe gaan hy weg en vind sy lyk neergewerp op die pad, terwyl die esel en die leeu langs die lyk staan; die leeu het die lyk nie geëet en die esel nie verskeur nie.