3. En hy het sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het.
4. En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die Here sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.
5. En Salomo het agter Astárte, die godin van die Sidoniërs, en agter Milkom, die verfoeisel van die Ammoniete, aan geloop.
6. So het Salomo dan gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en nie volgehou om die Here te volg soos sy vader Dawid nie.
7. Toe het Salomo ’n hoogte gebou op die berg wat oostelik van Jerusalem lê, vir Kamos, die verfoeisel van die Moabiete, en vir Molog, die verfoeisel van die kinders van Ammon.
8. En so het hy gedoen vir al sy uitlandse vroue wat rook laat opgaan het en geoffer het aan hulle gode.
9. Daarom was die Here toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het,
10. en hom bevel gegee het omtrent hierdie saak om nie agter ander gode aan te loop nie; maar hy het die bevel van die Here nie gehou nie.
11. Daarom het die Here vir Salomo gesê: Omdat dit so ver is met jou dat jy my verbond en my insettinge wat Ek jou beveel het, nie hou nie, sal Ek verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee.
12. Maar in jou dae sal Ek dit nie doen nie ter wille van jou vader Dawid; uit die hand van jou seun sal Ek dit afskeur.
13. Maar Ek sal nie die hele koningskap afskeur nie; een stam sal Ek aan jou seun gee ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek verkies het.
14. EN die Here het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet; hy was van die koninklike familie in Edom.