1. TOE koning Dawid oud en ver op sy dae was, het hulle hom met komberse toegemaak, maar hy kon nie warm word nie.
2. En sy dienaars sê aan hom: Laat hulle vir my heer die koning ’n jongmeisie soek, dat sy voor die koning kan staan en vir hom ’n verpleegster wees en in u skoot lê; dan sal my heer die koning warm word.
3. Hulle het toe in die hele grondgebied van Israel ’n mooi meisie gesoek en Abísag, die Sunamitiese, gevind en haar by die koning gebring.
4. En die meisie was besonder mooi, en sy was vir die koning ’n verpleegster en het hom bedien; maar die koning het geen gemeenskap met haar gehad nie.
5. Intussen was Adónia, die seun van Haggit, so vermetel om te dink: Ek sal koning word! En hy het vir hom waens en perderuiters aangeskaf en vyftig man wat voor hom uit loop.