Romeine 14:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Net so is daar dié vir wie die een dag meer besonders is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou. Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband.

6. Dié wat ’n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here. Dié wat alles eet, doen dit ook vir die Here, want hulle dank God daarvoor. En dié wat net sekere soorte kos eet, doen dit vir die Here, want ook hulle dank God daarvoor.

7. Ons het nie finale seggenskap oor onsself nie – of ons lewe of sterwe.

8. As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom.

9. Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes.

10. Jy dan, waarom veroordeel jy jou medegelowige? En jy weer, waarom sien jy neer op jou medegelowige? Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn.

11. Die Skrif sê mos:“So seker as Ek lewe,” verklaar die Here,“elke knie sal voor My buig,en elke tong sal belydat Ek God is.”

12. Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.

13. Daarom, kom ons neem ons voor om so op te tree dat ons nie ons medegelowiges sal laat struikel of dinge vir hulle moeilik maak nie.

14. Op grond van my verhouding met Jesus die Here is ek absoluut oortuig daarvan dat ’n mens enige soort kos kan eet. Dis nie op sigself onrein nie. Maar as iemand dit as onrein beskou – nou ja, dan is dit vir daardie persoon verkeerd.

15. En as jy jou medegelowige ontstel deur wat jy eet, dan handel jy nie meer volgens die reël van die liefde nie. Jy moet tog nie deur wat jy eet iemand se lewe verwoes nie. Onthou, Christus het vir daardie medegelowige gesterf!

16. Sorg dan dat daar nie sleg gepraat word oor iets waarvan julle weet dat dit op sigself goed is nie.

Romeine 14