Romeine 14:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Julle moet medegelowiges met ’n sensitiewe geloofsbelewing aanvaar sonder om hare te kloof oor hulle oortuigings.

2. Een persoon sal byvoorbeeld glo ’n mens kan maar alles eet. Maar ’n ander een, met ’n meer sensitiewe geloof, eet weer net groente.

3. Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom.

4. Wie gee jou die reg om oor iemand anders se huiswerker te oordeel? Dit is vir elkeen se eienaar om te besluit of hy die toets slaag of nie. Hy sál egter slaag, want die Here is magtig om hom te láát slaag.

5. Net so is daar dié vir wie die een dag meer besonders is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou. Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband.

6. Dié wat ’n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here. Dié wat alles eet, doen dit ook vir die Here, want hulle dank God daarvoor. En dié wat net sekere soorte kos eet, doen dit vir die Here, want ook hulle dank God daarvoor.

7. Ons het nie finale seggenskap oor onsself nie – of ons lewe of sterwe.

8. As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom.

Romeine 14