6. Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings.
7. As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig.
8. As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.
9. Moenie veins dat jy ander liefhet nie; doen dit uit jou hart. Haat alles wat verkeerd is; kies kant vir wat goed is.
10. As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.
11. Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here.
12. Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie.
13. As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie.
14. As mense julle oor julle geloof vervolg, moenie ’n vloek oor hulle uitspreek nie, maar vra God om hulle te seën.
15. As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle. As hulle hartseer is, deel dit met hulle.
16. Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie.