Romeine 1:11-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning bring om julle in julle geloof te versterk.

12. Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof.

13. Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het.

14. Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie.

15. Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig.

16. Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode.

17. Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

18. Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.

19. In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.

20. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.

Romeine 1