40. Abimelek het egter vir Gaäl laat terugval en hy het vir Abimelek gevlug. Baie mense is doodgemaak en het rondom die stadspoort gelê.
41. Abimelek is terug na Aruma. Sebul het vir Gaäl en sy mense uit Sigem verdryf. Hulle kon nie langer daar woon nie.
42. Die mense van Sigem het toe die volgende oggend uitgetrek om te gaan veg. Abimelek het daarvan gehoor.
43. Hy het sy manskappe in drie groepe verdeel en in die veld gaan wegkruip. Toe hulle die mense uit die stad sien kom, het hulle uit hulle skuilplekke opgespring en die mense aangeval.
44. Die groep by Abimelek het op die poort afgestorm en in die ingang van die stad gaan stelling inneem. Die ander twee groepe het die mense in die oop veld aangeval.
45. Abimelek het daardie hele dag deur teen die stad geveg voor hy dit kon inneem. Hy het almal in die stad doodgemaak, dit met die grond gelyk gemaak en sout oor alles gestrooi.
46. Toe die inwoners van Migdol-Sigem hoor wat gebeur het, het hulle in die tempel van El-Berit gaan skuil.
47. Iemand het vir Abimelek kom vertel dat al die inwoners van Migdol-Sigem daar in die tempel skuil.
48. Abimelek het toe met sy manskappe teen Salmonberg uitgeklim. Daar het hy ’n byl gevat en ’n boomtak afgekap. Hy het dit op sy skouer getel. Hy sê toe vir sy mense: “Julle het gesien wat ek gedoen het. Maak gou en doen dieselfde!”
49. Elkeen van hulle het toe ook ’n tak afgekap. Hulle het vir Abimelek gevolg en die takke teen die mure van die tempel gaan opstapel. Hulle het dit aan die brand gesteek. Almal in Migdol-Sigem het doodgebrand. Daar was omtrent 1 000 mans en vroue.
50. Abimelek is daarna Tebes toe. Hy het dit beleër en die stad ingeneem.
51. Daar was ’n hoë toring in die middel van die stad. Al die mans en die vroue van Tebes het daarnatoe gevlug. Hulle het hulleself daarin toegesluit en opgeklim na die dak van die toring.
52. Abimelek wou die toring bestorm. Hy het nadergegaan na die ingang van die toring om dit aan die brand te steek.
53. ’n Vrou het van bo af ’n maalklip afgegooi. Dit het hom op die kop getref en sy skedel vergruis.
54. Hy roep toe dringend na sy wapendraer en sê vir hom: “Trek uit jou swaard! Maak my dood. Moenie toelaat dat hulle kan sê: ‘’n Vrou het hom doodgemaak’ nie!” Sy wapendraer het hom toe met sy swaard doodgemaak.
55. Toe die Israeliete sien dat Abimelek dood is, het elkeen teruggegaan na sy huis toe.
56. So het God die misdaad wat Abimelek teen sy pa begaan het om sy 70 broers te vermoor, gestraf.
57. God het die kwaad van die mense van Sigem op hulle eie koppe laat afkom. Die vloek van Jerubbaäl se seun Jotam het hulle getref.