31. Die Benjaminiete het weer uitgestorm om hulle aan te val. Hulle is egter van hulle stad af weggelok. Hulle het soos die vorige kere weer van die Israeliete begin doodmaak. Omtrent 30 Israeliete is in die veld en langs die paaie op pad na Bet-El en Gibea doodgemaak.
32. Die Benjaminiete het geskreeu: “Ons gaan hulle weer verslaan soos die vorige kere.” Die Israeliete het egter met mekaar afgespreek om terug te val en hulle van die stad weg te lok na die grootpad toe.
33. Toe die Israeliete by Baäl-Tamar kom, het hulle in hulle spore omgedraai en reggemaak om terug te veg. Die Israeliete wat wes van Gibea in die hinderlaag gelê het, het uit hulle wegkruipplekke opgespring.
34. 10 000 geharde soldate van die Israeliete het Gibea van voor af aangeval. Die geveg was so hewig dat die Benjaminiete nie bewus was van die ramp wat op hulle gewag het nie.
35. Die Here het Israel teen Benjamin gehelp. Op daardie dag het die Israeliete 25 100 geharde soldate van Benjamin doodgemaak.
36. Die Benjaminiete het toe besef dat hulle verslaan is. Die Israeliete het teruggeval net om die Israeliete wat in die hinderlaag opgestel was, meer ruimte te gee om te veg.
37. Die manskappe in die hinderlaag het vinnig van alkante in Gibea ingestorm en die inwoners voor die voet doodgemaak.
38. Die Israeliete het met die manskappe in die hinderlaag afgespreek dat hulle ’n groot rookwolk uit die stad sou opstuur.
39. Dit was ’n sein vir die Israeliete om om te draai en terug te veg. Die Benjaminiete het teen daardie tyd al sowat 30 mans van Israel doodgemaak. Die Benjaminiete het gedink dat hulle weer soos die vorige kere die Israeliete sal verslaan.
40. Toe die rookwolk uit die stad begin opstyg, het die Benjaminiete omgedraai, maar die hele stad het reeds in ligte laaie gestaan.