Openbaring 21:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Hy het ook die muur van die stad gemeet. Dit is 144 el hoog. (Die engel het volgens ’n aardse maat gemeet.)

18. Die boumateriaal van die muur is jaspis en dié van die stad self suiwer goud, so helder soos skoon glas.

19. Die fondamentstene van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondamentsteen met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag,

20. die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint, en die twaalfde met ametis.

21. Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, so helder soos deurskynende glas.

22. Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is sy tempel.

23. Die stad het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en die Lam is sy kandelaar.

24. Die nasies sal in die stad se lig lewe en die konings van die aarde bring hulle luister daarheen.

25. Die poorte van die stad sal bedags nooit gesluit word nie, en daar sal nie meer nag wees nie.

26. Die nasies sal hulle luister en eerbetoon na die stad toe bring.

27. Niks wat besoedel is en niemand wat gruwelik en vals optree, sal ooit hulle voete in die stad sit nie, slegs dié wat opgeskryf is in die Boekrol van die Lewe, dit is die Boekrol van die Lam.

Openbaring 21