6. Ek het ook gesien dat die vrou dronk was van die bloed van hulle wat aan God toegewy is, van die bloed van hulle wat getuies van Jesus is. Ek het haar aangestaar, geheel en al verwonderd.
7. Die engel sê toe vir my: “Waarom is jy so verwonderd? Ek sal jou vertel wat die misterie van hierdie vrou is, en van die monster met die sewe koppe en tien horings wat haar ronddra.
8. “Die monster wat jy gesien het, wás eers, maar is nie nou meer nie. Hy gaan uit die bodemlose diepte uit opkom om dan na die verderf toe te gaan. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, sal verwonderd wees wanneer hulle die monster sien, want eers was hy en nou is hy nie meer nie en tog sal hy wees.