8. ’n Ander engel, ’n tweede, het gevolg en uitgeroep: “Die magtige Babilon het geval, ja, geval! Babilon het al die nasies bedwelm met die wyn van haar passie vir seksuele sonde.”
9. Nog ’n engel, ’n derde, het agter die ander gevolg en met ’n kragtige stem uitgeroep: “As iemand neerkniel voor die monster en sy standbeeld en ’n merk op sy voorkop of op sy hand het,
10. sal hy ook van die wyn van God se woede moet drink. Dié wyn word onverdun in die beker van sy wraak ingeskink. Hulle sal ook gefolter word in vuur en swael in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam.
11. Die rookwolk van hulle foltering styg vir altyd na bo, en hulle het dag en nag nie rus nie; dit is húlle wat die monster en sy standbeeld aanbid, en wat die merk van sy naam dra.”
12. Onder hierdie omstandighede het die gelowiges nodig om te volhard, hulle wat die opdragte van God en die geloof in Jesus bly bewaar.
13. Ek het ook ’n stem van die hemel af hoor sê: “Skryf dit op! Geseënd is die dooies wat van nou af in die Here sterf.”“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle harde werk, want wat hulle gedoen het, vergesel hulle.”
14. En kyk, ek het ’n wit wolk gesien. Op die wolk het Iemand soos die Seun van die Mens gesit. Hy het ’n goue kroon op sy kop gehad en ’n skerp sekel in sy hand.