2. Die leiers van Israel, die hoofde van die familiegroepe wat met die sensus gehelp het, het toe nadergekom.
3. Hulle het hulle offers vir die Here gebring. Dit was ses waens met twaalf osse. Daar was ’n wa vir elke twee leiers en ’n os vir elkeen. Hulle het dit vir die Here by die tabernakel aangebied.
4. Die Here het toe vir Moses gesê:
5. “Aanvaar dit van hulle en gebruik dit vir die diens by die tabernakel. Verdeel die waens en osse onder die Leviete volgens die werk wat elkeen moet doen.”
6. Moses het toe die waens en osse in ontvangs geneem en vir die Leviete gegee.
7. Hy het twee waens en vier osse vir die Gersoniete gegee vir die werk wat hulle moes doen.
8. Hy het vier waens en agt osse vir die Merariete gegee vir die werk wat hulle onder leiding van Itamar die seun van die priester Aäron moes doen.
9. Hy het nie vir die Kehatiete enigiets gegee nie, want dit was hulle werk om die heilige dinge op hulle eie skouers te dra.
10. Op die dag toe die altaar gewy is, het die leiers ook spesifieke geskenke vir die offeraltaar gegee. Hulle het nadergekom en dit by die altaar gaan neersit.
11. Die Here het toe vir Moses gesê: “Laat elke leier sy geskenke vir die altaar op ’n bepaalde dag bring.”
12. Op die eerste dag het Nagson sy geskenke gebring. Hy was die seun van Aminadab, die leier van die stam van Juda.
13. Sy geskenke was ’n silwerbord van een en ’n half kilogram en ’n silwerbak van 800 gram. Al twee houers was vol meel met olie gemeng as graanoffer.
14. Hy het ook ’n goue houer van 115 gram vol wierook gebring.
15. Daar was ook ’n jong bul en ’n jaaroud rammetjie vir brandoffers,
16. ook ’n bokram as sonde-offer,
17. twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as vrede-offer. Dit was wat Nagson, die seun van Aminadab, gebring het.
18. Op die tweede dag het Netanel, seun van Suar, leier van Issaskar, sy geskenke gebring.