Numeri 27:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Selofgad se dogters was Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Selofgad was die seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Makir, seun van Manasse, seun van Josef.

2. Sy dogters het met ’n saak na Moses, die priester Eleasar en al die leiers van die gemeenskap van Israel daar by die ingang van die tabernakel gekom.

3. “Ons pa het in die woestyn gesterf. Hy het nie seuns gehad nie,” het hulle gesê. “Hy was nie een van Korag se meelopers wat teen die Here in opstand gekom het nie. Hy is dood oor sy eie sonde.

4. Hoekom moet ons pa se naam uit sy stam verdwyn net oor hy nie seuns gehad het nie? Julle moet vir ons grond tussen ons familie gee.”

5. Moses het die saak voor die Here gaan stel.

6. Die Here het Moses geantwoord:

7. “Wat Selofgad se dogters sê, is reg. Gee vir hulle grond as erfdeel tussen hulle familielede. Hulle moet hulle pa se erflating kry.

8. “Sê ook vir die Israeliete: ‘Iemand wat sonder seuns doodgaan se erflating moet na sy dogters toe gaan.

9. As hy nie dogters gehad het nie, moet sy erflating na sy broers toe gaan.

10. As hy sonder broers doodgaan, moet sy eiendom na sy pa se broers toe gaan.

11. Indien sy pa dan ook nie broers gehad het nie, moet sy eiendom na die naaste familielede in sy stam gaan.’ Dit is hoe die Here die saak deur Moses wetlik vir die Israeliete bepaal het.”

12. Die Here het vir Moses gesê: “Klim op die berg aan die oostekant. Kyk van daar af na die land wat Ek vir die Israeliete gaan gee.

13. Nadat jy klaar daarna gekyk het, sal jy ook by jou vaders versamel word soos jou broer Aäron.

14. In die Sinwoestyn het julle al twee my bevel verontagsaam. Toe die volk met julle baklei het, het julle nie by die waters van Meriba, by Kades in die Sinwoestyn, vir hulle gewys hoe heilig Ek is nie.”

Numeri 27