Numeri 20:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Ons voorouers het afgegaan na Egipte toe. Ons het baie jare in Egipte gewoon. Egipte het ons voorouers baie sleg behandel.

16. Ons het die Here om hulp gesmeek. Hy het ons gebede verhoor en sy engel na ons toe gestuur. Hy het ons uit Egipte gelei. Ons is nou by Kades op die grens van jou land.

17. “Gee tog toestemming dat ons deur jou land kan trek. Ons sal nie deur jou veld of jou wingerde trek nie. Ons sal ook nie water uit jou putte gebruik nie. Ons sal op die Hoofweg van die Konings bly sonder om links of regs af te wyk totdat ons dwarsdeur jou gebied is.”

18. Die koning van Edom het hulle geantwoord: “Julle mag nie deur my gebied trek nie! Ek sal met my weermag teen julle uittrek!”

19. Die Israeliete het hom laat weet: “Ons sal met die grootpad langs hou. As ons of ons vee van jou water drink, sal ons daarvoor betaal. Ons wil werklik niks anders doen nie as net om deur jou gebied te trek.”

20. Hy het teruggeantwoord: “Julle trek nie hier deur nie!” Edom het toe met ’n groot en goed gewapende weermag uitgetrek om teen hulle te veg.

21. Omdat Edom geweier het om Israel toestemming te gee om deur sy gebied te trek, het Israel van hom af weggeswenk.

Numeri 20