Numeri 20:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Israeliete het in die vroeë lente in die Sinwoestyn aangekom. Hulle het by Kades kamp opgeslaan. Mirjam is daar dood en begrawe.

2. Daar was nie genoeg water vir die mense om te drink nie. Hulle het toe op Moses en Aäron toegesak.

3. Hulle het in opstand gekom teen Moses en vir hom gesê: “Ons moes maar liewer saam met die ander voor die Here doodgegaan het!

4. Hoekom het julle die Here se mense na hierdie woestyn toe gelei sodat ons hier saam met ons vee kan doodgaan?

5. Waarom het julle ons uit Egipte weggevat en ons na hierdie onleefbare plek gebring? Hier is nie landerye of vyebome of granate nie. Hier is nie eers water om te drink nie!”

6. Moses en Aäron is van die mense af weg na die ingang van die tabernakel toe. Daar het hulle vooroor gekniel. Die magtige teenwoordigheid van die Here het na hulle gekom.

7. Die Here het vir Moses gesê:

8. “Gaan vat die stok voor die altaar. Jy en Aäron moet al die mense bymekaarkry. Terwyl hulle kyk, moet jy die rots beveel om water te gee. Daar sal genoeg water uit die rots kom sodat die mense en hulle diere hulle versadig kan drink.”

Numeri 20