Numeri 18:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Die Here het vir Aäron gesê: “Jy sal nie grond kry in julle land nie. Jy sal nie saam met jou volk eiendom besit nie. Ek is jou erfporsie en jou aandeel in Israel.

21. Vir die werk wat hulle by die tabernakel doen, vergoed Ek die stam van Levi met al die tiendes wat Israel bring.

22. “Die Israeliete mag van nou af nie meer by die tabernakel kom nie. Dit sal as ’n oortreding beskou word wat lei tot die dood.

23. Die Leviete moet by die tabernakel werk. Hulle dra die verantwoordelikheid daarvoor. Dit is ’n onveranderlike wet. Hulle sal egter nooit enige grond tussen die Israeliete besit nie.

24. Ek gee die tiendes wat die Israeliete vir die Here offer aan die Leviete as hulle deel. Dit is waarom Ek gesê het dat die Leviete nie ’n erfporsie onder die Israeliete kry nie.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Sê vir die Leviete: Wanneer Ek vir julle die tiendes wat die Israeliete vir My offer, as erfdeel vir julle gee, moet hulle weer ’n tiende daarvan vir die Here gee. Dit is dus ’n tiende van ’n tiende.

27. Dit sal beskou word asof dit julle graan van die dorsvloer af en julle eerste wyn van die wynpers af is.

28. So sal julle van die tiendes wat julle van die Israeliete kry, ook julle offer vir die Here bring. Oorhandig julle tiende daarvan aan die priester Aäron.

29. Sorg dat julle die heel beste daarvan vir die Here gee.

30. “Sê vir hulle: Wanneer julle die beste dele daarvan gee, word dit beskou as die Leviete se offer uit die oes en die druiwevat.

31. Jy en jou huis mag op enige plek daarvan eet. Dit is jou vergoeding vir die werk wat jy by die tabernakel doen.

Numeri 18