Numeri 16:29-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. As hierdie mense op ’n natuurlike manier doodgaan, dan het die Here my nie gestuur nie.

30. As die Here egter iets eienaardigs laat gebeur en die grond skeur oop en sluk hulle met al hulle besittings in en hulle sink lewendig in die grond weg, dan sal julle weet dat hierdie mans die Here getart het.”

31. Hy het dit skaars gesê of die aarde het onder hulle oopgeskeur.

32. Die aarde het oopgegaan en hulle en hulle huisgesinne ingesluk. Dit het ook Korag en sy trawante en alles wat hulle besit het, ingesluk.

33. Hulle het met alles wat hulle besit net so lewendig in die grond verdwyn. Die grond het bo hulle toegegaan. Hulle het heeltemal uit die gemeenskap verdwyn.

34. Toe hulle hoor hoe hierdie mense gil, het al die Israeliete wat rondom hulle gestaan het, op die vlug geslaan. Hulle was bang die grond gaan hulle ook insluk.

35. Vuur het toe van die Here af gekom en dit het die 250 mans verteer wat nadergekom het om die wierook te brand.

36. Die Here sê toe vir Moses:

37. “Sê vir die priester Eleasar, Aäron se seun, dat hy die vuurpanne met wierook uit die brand moet herwin, want hulle behoort aan God. Hy moet die kole gaan weggooi.

Numeri 16