Numeri 16:15-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Moses het toe baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “Moenie hulle graanoffers aanvaar nie. Ek het nie eers ’n donkie by een van hulle gevat nie. Ek het nooit enigeen van hulle benadeel nie.”

16. Moses het vir Korag gesê: “Jy en al jou kamerade moet môre hier voor die Here kom. Aäron moet by wees.

17. Laat jy en Aäron en elkeen van jou 250 handlangers ’n vuurpan dra en wierook om daaroor te gooi en kom dan na die Here toe.”

18. Elkeen het toe ’n vuurpan gevat, vuur daarin gesit, wierook daaroor gestrooi en by Moses en Aäron by die ingang van die tabernakel gaan staan.

19. Korag het die volk teen hulle opgesweep. Hulle het by die ingang van die tabernakel kom staan. Toe het die hele gemeenskap bewus geword van die Here se magtige teenwoordigheid.

20. Die Here het vir Moses gesê:

21. “Staan weg van hierdie mense af dat Ek hulle met een slag kan vernietig!”

22. Moses en Aäron het toe op die grond neergeval. Hulle het gesmeek: “O God, die God wat asem gee vir alles wat lewe. Moet U nou vir die hele gemeenskap kwaad word net oor een mens wat oortree het?”

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Sê vir die mense dat hulle moet padgee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

Numeri 16