Numeri 15:18-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. “Gee vir die Israeliete die volgende voorskrifte: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee,

19. en julle van die opbrengs van die land eet, moet julle daarvan vir die Here offer.

20. Van die eerste growwe meel wat julle maal, moet julle ’n ringbrood bak wat julle kan offer aan God as ’n geskenk wat van die dorsvloer af kom.

21. Elke geslag moet hierdie offer uit die eerste growwe meel vir die Here bring.

22. “Iemand kan miskien vergeet om die voorskrifte na te kom wat die Here vir Moses gegee het.

23. Dit kan in die toekoms gebeur dat julle nageslag nalaat om alles te doen wat die Here vir julle deur Moses beveel het.

24. As dit nie doelbewus gebeur het nie en die gemeenskap het nie daarvan geweet nie, moet die hele gemeenskap ’n jong bul as brandoffer bring om vir die Here vreugde te gee. ’n Graanoffer soos dit voorgeskryf is, ’n drankoffer en ’n bokram as sonde-offer moet saamgebring word.

25. Die priester moet versoening bring vir die hele gemeenskap van die Israeliete. Dit sal hulle vergewe word. Dit was nie ’n doelbewuste oortreding nie. Hulle het tog ’n vuuroffer en ’n sonde-offer vir die Here gebring vir hulle oortreding.

26. Al die Israeliete sal vergewe word, ook die vreemdeling en die hele gemeenskap, want dit was ’n onbedoelde oortreding.

27. “As ’n individu onopsetlik sondig, moet hy ’n bokooitjie van ’n jaar oud bring as ’n sonde-offer.

28. Die priester sal die persoon se oortreding met die Here versoen. Die persoon sal vergeef word.

29. As iemand onopsetlik oortree, geld presies dieselfde reël vir sowel die vaste inwoner as die vreemdeling wat by julle bly.

30. “Die persoon wat egter opsetlik oortree, inwoner of vreemdeling, beledig die Here. Daardie persoon moet uit die volk verwyder word.

31. Daardie persoon het die woord van die Here met veragting behandel en sy wette verbreek. Hy moet heeltemal afgesny word. Hy dra self die skuld vir sy oortreding.”

32. Terwyl hulle in die woestyn was, het hulle op ’n man afgekom wat besig was om op die Sabbat hout op te tel.

33. Die mense wat hom gevang het, het hom toe voor Moses, Aäron en die res van die gemeenskap gebring.

34. Hulle het hom aangehou omdat hulle nie geweet het wat om met hom te maak nie.

Numeri 15