Numeri 14:34-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

34. Vir elkeen van die 40 dae wat julle die land verken het, sal julle vir julle oortreding betaal. Julle sal 40 jaar in die woestyn bly. Julle sal leer wat dit is om My as vyand te hê.

35. Ek, die Here, het dit gesê! Ek sal dit met elkeen laat gebeur wat teen my saamgesweer het. In hierdie selfde woestyn sal elkeen van hulle doodgaan!”

36. Die tien mans wat Moses uitgestuur het om die land te gaan verken en wat teruggekom het en die gemeenskap teen God opgemaak het met die slegte gerug wat hulle oor die land versprei het,

37. het gesterf vanweë ’n plaag wat die Here gestuur het.

38. Van die mans wat gegaan het om die land te verken, het net Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, oorleef.

39. Toe Moses vir die Israeliete vertel wat die Here alles gesê het, was die volk baie hartseer.

40. Hulle het die volgende oggend vroeg opgestaan en begin optrek na die heuwelgebied toe. Hulle het gesê: “Laat ons optrek na die land wat die Here vir ons beloof het. Ons het ’n fout gemaak.”

41. Moses het toe vir hulle gevra: “Waarom gaan julle nou teen die Here se besluit in? Dit sal nie werk nie.

42. Moenie nou optrek nie. Die Here is nie saam met julle nie. Julle vyande sal julle nou afmaai.

Numeri 14