10. Toe Jesus dit hoor, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir die skare wat besig was om Hom te volg: “Ek verseker julle, só ’n sterk geloof het Ek nog nêrens in Israel teëgekom nie.
11. Glo My, daar sal baie mense van oor die hele wêreld kom, en saam met Abraham, Isak en Jakob die feesmaaltyd in God se koninkryk geniet.
12. Maar die Israeliete, die mense wat daardie koninkryk eintlik moes beërwe het, sal uitgegooi word in die donker daarbuite. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”
13. Daarop sê Jesus vir die Romeinse offisier: “Gaan huis toe. Soos jy geglo het, sal dit vir jou gebeur.” En op daardie presiese oomblik het sy slaaf gesond geword.
14. Toe Jesus by Petrus se huis kom, sien Hy dat Petrus se skoonma met ’n hoë koors siek in die bed lê.
15. Hy het haar hand aangeraak en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien.
16. Teen die aand het hulle baie duiwelbesetenes na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak.
17. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: “Hy het ons kwale weggevat, en ons siektes het Hy weggedra.”
18. Toe Jesus die baie mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant van die see moes vertrek.
19. ’n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom: “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!”
20. Maar Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop kan neerlê nie.”
21. Een van sy ander dissipels het vir Hom gesê: “Here, U sal my moet toelaat om eers terug te gaan en my pa te begrawe.”
22. Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, jy moet My nóú volg. Laat die geestelik dooies maar na mekaar omsien.”
23. Jesus het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg.
24. Skielik het daar ’n hewige storm oor die see opgekom sodat reuse golwe oor die boot gebreek het. Maar Jesus het gelê en slaap.