Matteus 25:2-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Vyf van hulle was dwaas, maar die ander vyf was verstandig.

3. Die vyf dwase meisies het wel hulle lampe saamgeneem, maar geen ekstra olie nie.

4. Die ander vyf daarenteen was verstandig genoeg om, afgesien van hulle lampe, ook nog ekstra olie in houers saam te vat.

5. Toe die bruidegom lank wegbly, het almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6. Dit was al teen middernag toe ’n geroep hulle wakker maak: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan verwelkom hom!’

7. “Daarop het al die meisies opgespring en hulle lampe begin regkry.

8. Die dwases vra toe vir die verstandiges: ‘Help ons asseblief met ’n bietjie van julle olie, want ons lampe is aan die doodgaan.’

9. Maar die verstandiges het geantwoord: ‘Nee, ons kan nie. Daar is nie genoeg vir ons almal nie. Gaan koop liewer vir julle by die winkel.’

10. “Terwyl die onverstandiges weg was om olie te gaan koop, het die bruidegom opgedaag. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilofsfees en die deur van die feesvertrek is gesluit.

11. Later kom die ander meisies toe ook en roep van buite af: ‘Meneer, Meneer, maak asseblief vir ons oop!’

12. Maar hy het teruggeroep: ‘Ek ken julle glad nie!’

13. “Wees dus altyd wakker en gereed, want julle ken nie die presiese datum of tyd van my koms nie.”

14. “Verder is God se koningsheerskappy soos iemand wat op reis wou gaan. Hy roep toe sy slawe bymekaar en vertrou sy geld aan hulle toe om daarmee te woeker terwyl hy weg is.

15. Vir die eerste slaaf het hy vyf kosbare goue muntstukke gegee, vir die tweede slaaf twee, en vir die derde slaaf een – vir elkeen volgens sy spesifieke bekwaamheid – en toe het hy vertrek. Dadelik

16. het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel.

17. Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel.

18. Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

Matteus 25