Matteus 25:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. het die een wat die vyf goue muntstukke ontvang het, daarmee aan die werk gespring en dit spoedig verdubbel.

17. Net so het die een wat twee goue muntstukke ontvang het, ook sy geld verdubbel.

18. Maar die een wat net een goue muntstuk ontvang het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19. “Na ’n lang tyd het daardie slawe se eienaar van sy reis teruggekeer en hulle gevra om te rapporteer wat hulle met sy geld gedoen het.

20. Die slaaf wat die vyf goue muntstukke ontvang het, verskyn toe voor hom en bring die vyf ekstra goue muntstukke saam. ‘Meneer,’ sê hy, ‘u het vir my vyf goue muntstukke gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’

21. Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’

22. “Die een wat die twee goue muntstukke ontvang het, verskyn toe ook voor hom en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my gegee. Kyk, ek het die bedrag verdubbel!’

23. Die eienaar het hom geprys en gesê: ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.’

24. “Daarna verskyn die een wat die een goue muntstuk ontvang het ook voor hom en sê: ‘Meneer, ek het besef dat u ’n veeleisende persoon is wat wil oes waar u nie self gesaai het nie en wil insamel waar u niks ingesit het nie.

25. Daarom was ek te bang om iets te waag en het maar liewer u muntstuk in die grond gaan wegsteek. Hier is u geld nou.’

26. “Maar sy eienaar het hom geantwoord: ‘Jou slegte slaaf! Jou lamsak! So, jy het geweet dat ek ’n veeleisende mens is wat wil oes waar ek nie self gesaai het nie en wil insamel waar ek niks ingesit het nie?

27. Dan moes jy mos my geld in die bank belê het en ek sou by my terugkoms ten minste my geld met rente kon terugkry.’

Matteus 25