3. Toe die fees gereed was, het hy sy slawe uitgestuur om die gaste te laat weet dat dit tyd was om te kom, maar hulle wou nie kom nie.
4. Daarop het hy weer ander slawe gestuur met die opdrag: ‘Sê vir die gaste: My feesmaal staan gereed. My beeste en vetmaakvee is klaar geslag. Alles is reg om te begin. Kom na die bruilof!’
5. “Die genooides het egter net hulle skouers opgetrek en elders heen gegaan, die een na sy boerdery en die ander een na sy besigheid.
6. Die res het die slawe gegryp en mishandel en selfs doodgemaak.
7. “Daarop het die koning woedend geword. Hy het sy weermag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand.
8. Hy sê toe vir sy slawe: ‘Die bruilof is gereed, maar die gaste wat ek genooi het, is hierdie eer onwaardig.
9. Gaan staan nou op die straathoeke en nooi almal wat julle raakloop om die bruilof by te woon.’
10. “Toe het daardie slawe op die strate uitgegaan en elkeen saamgebring wat hulle kon kry, slegtes sowel as goeies. So het die bruilofsaal vol gaste geword.
11. Toe die koning egter die saal binnekom om die gaste te ontmoet, merk hy iemand op wat sonder bruilofsklere opgedaag het.
12. Daarop sê hy vir die persoon: ‘My vriend, hoe het jy dan sonder die regte klere hier ingekom?’ Maar hy kon geen verskoning aanbied nie.
13. “Toe sê die koning vir sy slawe: ‘Bind hierdie vent stewig vas en smyt hom uit in die donker daar buite waar daar bitterlik gehuil en van selfverwyt op die tande gekners sal word.’
14. Daar is inderdaad baie meer genooides as uitverkorenes.”
15. Die Fariseërs het toe vergadering gaan hou om te bespreek hoe hulle Jesus op ’n verkeerde opmerking sou kon uitvang om as aanklag teen Hom te gebruik.
16. Hulle stuur toe ’n paar van hulle volgelinge saam met ondersteuners van Herodes wat vir Jesus vra: “Leermeester, ons weet hoe eerlik u is. Sonder om doekies om te draai leer u die mense wat God van ons verwag. U ontsien niemand nie, want u laat u nie beïnvloed deur mense se belangrikheid nie.
17. Sê dan vir ons wat is u standpunt: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie?”
18. Jesus het hulle egter deurgekyk. “Julle skynheiliges,” sê Hy, “julle probeer My uitvang!
19. Wys vir My die Romeinse belastingmunt.” Hulle bring toe vir Hom die muntstuk. “Wie se kop en titel is hierop afgedruk?” vra Hy vir hulle.