1. “Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur.
2. Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk.
3. “Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie.
4. Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’
5. Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal.
6. “Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’
7. Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’