5. Later, nadat hulle die see oorgesteek het, ontdek die dissipels dat hulle vergeet het om kos saam te neem.
6. Jesus sê toe vir hulle: “Wees baie versigtig vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.”
7. Hulle het toe onder mekaar geargumenteer: “Hy sê dit omdat ons geen brood saamgebring het nie.”
8. Jesus het dit geweet en gesê: “Waarom argumenteer julle onder mekaar, dat julle nie brood het nie? Het julle so min vertroue in My?
9. Verstaan julle nog steeds nie? Onthou julle nie van die vyf brode vir die 5 000, en hoeveel mandjies vol julle agterna bymekaargemaak het nie?
10. En die sewe brode vir die 4 000, en hoeveel mandjies vol julle bymekaargemaak het nie?
11. Hoe kan dit ooit in julle gedagtes opkom dat Ek oor gewone kos praat? Daarom sê Ek nou weer vir julle: ‘Oppas vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs!’”
12. Toe het hulle einde ten laaste ingesien dat Hy hulle nie waarsku teen gewone suurdeeg wat vir brood gebruik word nie, maar teen die beskouings van die Fariseërs en die Sadduseërs.
13. Toe Jesus in die omgewing van Sesarea-Filippi kom, vra Hy sy dissipels: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?”
14. “Wel,” antwoord hulle, “party sê U is Johannes die Doper, ander weer Elia, nog ander Jeremia, of een van die ander profete.”
15. Hy sê toe vir hulle: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”
16. Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.”
17. Jesus het hom geantwoord: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie.
18. “Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie.
19. Ek vertrou die sleutels van God se koninkryk aan jou toe. Wat jy ook al op aarde toesluit, sal ook by God toegesluit bly, en wat jy ook al oopsluit, sal ook by God oopgesluit bly.’”
20. Hy gee toe streng opdrag aan sy dissipels om vir niemand te vertel dat Hy die Messias is nie.